Kyk: Brand verwoes deel van Bloedrivier-erfenisterrein – LNN – Network News
Dit het soos die apokalips gelyk toe ’n vrou Maandag (10 Augustus) in die vroeë oggendure by die venster uitkyk. Daar was net ’n rooi gloed en vlamme wat bykans dakhoogte gestaan het.
Die digte rook het die sig beperk, maar Judean Janse van Vuuren, die finansiële bestuurder by die Bloedrivier-erfenisterrein, duskant Dundee in KZN, het onmiddellik haar tekkies aangetrek, uit haar huis gestorm en die vlamme begin doodtrap.
“Ons tekkies is natuurlik stukkend, maar ons kan die Here dank dat nie een van ons ernstige brandwonde of beserings opgedoen het nie,” het Janse van Vuuren vanoggend (12 Augustus) vertel.
Janse van Vuuren, wat saam met haar man, Anton, die algemene bestuurder, dogter Veroelize en twee kleinkinders op die terrein woon, glo dat dié brand doelbewus gestig is. Hulle bied nou ’n beloning van R20 000 aan vir inligting wat tot die identifisering, inhegtenisname en skuldigbevinding van die verantwoordelike persoon of persone kan lei.
Ten tyde van publikasie het niemand nog met inligting na vore gekom nie.
Janse van Vuuren sê dat hulle gewoond is aan brande gedurende die wintermaande, maar dat die brand meer persoonlik voel ‘omdat dit so naby ons woonhuis uitgebreek het’.
“Ons het ook olie op verskeie plekke rondom die erf en by die kampeerterrein aangetref,” sê sy.
Die omstandighede het daartoe gelei dat hulle die moontlikheid van doelbewuste brandstigting ondersoek.
“Ons beskou hierdie voorval as uiters ernstig. Wanneer ’n brand so naby aan ’n woning ontstaan dat mense en kinders se lewens in gevaar gestel word, kan dit nie bloot as ’n gewone veldbrand afgemaak word nie,” sê sy.
Anton het reeds gister (11 Augustus) ’n strafregtelike klag by die Kingsley-polisiekantoor ingedien.
Die polisie het aan Caxton Network News bevestig dat ’n klag ingedien is, maar kon nie veel meer oor die voorval sê nie.
’n Brug het tot onlangs nog die Bloedrivier-erfenisterrein en die aangrensende erfenisterrein, Ncome, verbind, maar moes gesluit word weens gebrekkige instandhouding.
Janse van Vuuren sê dat die onus nou op die regering rus om dit te herstel. “Ons het nie genoeg geld om die brug te herstel nie.”
Volgens Janse van Vuuren is daar nie ‘vyandskap’ tussen die Afrikaner- en Zoeloe-erfenisterreine nie. “Ons handhaaf goeie verhoudinge en samewerking. Ons het reeds met die Ncome-museum en gemeenskapsleiers in die Ncome-omgewing kontak gemaak om saam te werk om die persoon of persone verantwoordelik vir die brand te identifiseer.”
Janse van Vuuren sê dat hulle, as gevolg van finansiële druk, drie mense moes aflê.
“Ek hoop en bid dat dit nie een van ons voormalige werkers is wat die brand gestig het nie.”
Dr. Danie Langner, die uitvoerende hoof van die FAK, Erfenisstigting en die Voortrekkermonument, was die langnaweek saam met sy seuns, Niël en Daniël, en een van sy seuns se vriende op die terrein. Niël het wakker geword toe Janse van Vuuren om hulp geroep het en het saam met sy broer gehelp om die brand te bestry.
Tydens die bluswerk het warm olie teen Daniël se bene opgespat. “Hy het brandwonde opgedoen wat permanente letsels gelaat het,” sê Niël.
Niël het tydens die brand ’n video van die voorval gemaak.
“Ons het eers nie geweet wat aangaan nie, want ons het wakker geword van iemand wat om hulp roep. Toe ek die deur oopmaak, het ek die vlamme gesien. Ek en my broer het begin om die vuur dood te trap, waarna ons op ’n stuk afgekom het wat ons nie kon doodtrap nie. Ons het besef dit is ’n oliekol,” vertel Niël.
Hoewel niemand ernstig beseer is nie, het die brand aansienlike skade aan die terrein se infrastruktuur veroorsaak.
’n Groot gedeelte van die kampeerterrein het afgebrand. Kragpunte en ander elektriese infrastruktuur is beskadig of vernietig, boorgatpompe het uitgebrand en die donkies se blyplek is beskadig.
Die terrein se diere, waaronder donkies, benodig tans dringend voer en verdere versorging.
“Geen van die diere het doodgebrand nie, maar die weivelde is swart gebrand,” sê Janse van Vuuren.
Intussen het Langner gesê dat hulle nie wil hê dat ’n kriminele daad verdeeldheid tussen gemeenskappe of tussen erfenisterreine wat goeie betrekkinge met mekaar het, moet veroorsaak nie.
“Die veiligheid van die hele gebied is belangrik. Wat by een erfenisterrein gebeur, kan gevolge vir die ander hê. Daarom moet Bloedrivier, Ncome, die gemeenskap en wetstoepassingsowerhede nou saamwerk.”
Weens die sensitiwiteit van die twee aangrensende erfenisterreine sal die voorval ook onder die aandag van die toepaslike nasionale misdaadintelligensie-owerhede gebring word.
Die Bloedrivier-erfenisterrein gaan sy veiligheidsmaatreëls verskerp.
Dit sluit verbeterde beligting rondom die terrein, bykomende brandblustoerusting en verbeterde kamerastelsels in.
Sekuriteit rondom die museum sal ook verskerp word, terwyl beskadigde infrastruktuur en die donkies se blyplek herstel sal word.
“Ek is ongelooflik dankbaar vir die gesindheid en samewerking van die Ncome-gemeenskap. As ons wedersyds mekaar se erfenis so in beskerming kan neem, gee dit hoop vir ons toekoms,” sê Langner.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.